Petru-Nell Skryfbesigheid Logo
Vrae en antwoorde

Tuis

Oor skryf:
Skryfkursus
Vrae en antwoorde oor skryf
Skryfkompetisies
Skrywerskring

Oor lees:
Leeskringforum
Leeslys

Oor boeke:
Nuwe boekbekendstellings
Boekwinkel
Soek 'n boek

Vir ons gemeenskap:
Gemeenskapsprojekte

Kontak ons

 

 

'n Vraag i.v.m. skryf sal gratis beantwoord word, mits dit en die antwoord op die webtuiste gepubliseer kan word.

Sou die vraag so kompleks wees dat die antwoord langer as 300 woorde is, of die vraagsteller wil dit privaat hou, sal die vraagsteller tussen R50 en R250 daarvoor moet betaal.

Sien vorige vrae en antwoorde oor skryf.

Ons kry gereeld navrae oor heildronke. Lees hier vir 'n paar leidrade oor hoe om jou eie heildronk te skryf, alhoewel ons met graagte vir jou 'n heildronk sal skryf sou jy ons kwotasie aanvaar.


Tik jou vraag hier:           (velde met * is verpligtend)

*Noemnaam
*Van
*Kliënt e-pos adres
*Woonadres
*Posadres
Kontaknommer(h)
*Kontaknommer(w)
*Selnommer
*Faksnommer
*Waar het u van ons gehoor?
Het u navraag te doen met die instel van 'n heildronk?

Indien JA, wil u hê dat Petru-Nell Skryfbesigheid die toespraak namens u moet skryf?

Indien JA, gee ’n bietjie agtergrond oor die persoon of paartjie vir wie die heildronk bedoel is.

HEILDRONK:
a. Die persoon of paartjie vir wie die heildronk bedoel is?
b. Wat is hulle name?
c. Ouderdomsgroep: (Merk die toepaslike: 20-30; 31-40; 41+)
d. Eerste huwelik?
e. Prettig of ernstig?
f. Oggend/middag/aand geleentheid
g. Is daar iets spesifieks waarna ons moet verwys (bv iets snaaks wat gebeur het).

TOESPRAAK:
a. Die geleentheid waarvoor toespraak benodig word.
b. Wie is die teikengroep waarvoor die toespraak benodig word? (bv bestuurders, onderwysers, jongmense, werkers, ens)
c. Lys toepaslike inligting wat u in die toespraak vervat wil hê.
d. Voorgeskrewe kriteria waaraan die toespraak moet voldoen (indien
enige).

Gee ander inligting wat betrekking het op die heildronk/toespraak, of stel u vraag:

Gee asseblief vir ons die datum en tyd waarteen u die heildronktoespraak wil ontvang.

Datum:     Tyd:


Wat is die minimum en wat is die maksimum aantal woorde wat gebruik mag word vir die heildronk/toespraak?

'n Kwotasie sal so spoedig moontlik aan u gestuur word.

As u die kwotasie ontvang en nie wil voortgaan met hierdie opdrag nie, laat weet asseblief onmiddelik vir Marietjie by marietjie@pnskryf.co.za.

   
   

Vrae en antwoorde oor skryf:

Vraag:
Waar kan 'n kortverhaal gepubliseer word wat te lank is vir 'n tydskrif?

Antwoord:

  • Verkort die verhaal sodat dit geskik is vir die tydskrifmark.
  • Bêre die kortverhaal tot daar 'n kompetisie is en dit daarvoor ingeskryf kan word, of tot 'n uitgewer vra om dit in 'n bundel op te neem. Mens lees gewoonlik in die media van sulke projekte. Anders moet die skrywer nog kortverhale met dieselfde tema skryf en die bundel met kortverhale aan 'n uitgewer voorlê of oorweeg om dit self uit te gee.
  • Verander die kortverhaal in 'n novelle, as die storielyn dit toelaat.

Vraag:
Ek wil graag weet waar begin mens om iets moontlik te publiseer? Soos 'n kortverhaal byvoorbeeld, stuur mens dit aan Huisgenoot, Keur of hoe werk dit? Dit mag na 'n dom vraag klink, maar ek weet nie waar om te begin nie, maar dan weer, dom is die vraag wat nog nie gevra is nie.

Antwoord:

Die heel belangrikste wat jy eerstens moet doen, is om te besluit wie is die leser vir wie jy skryf. Jou leser wat tydskrifverhale lees, lyk bietjie anders as die persoon wat van iets met meer om die lyf hou.

Tydskrifverhale bly ’n baie goeie opsie, maar jy het ’n bietjie huiswerk om te doen. Koop die tydskrifte vir wie jy wil skryf en lees hulle verhale. Doen dit vir ten minste drie tot vier maande. (Jy kan mos intussen aangaan met die skryf van jou verhale.) Jy sal baie gou agterkom watter tipe verhaal publiseer die betrokke tydskrif graag. Kyk voorin die tydskrifte, daarin kan jy sien wie is verantwoordelik vir die verhale. Kontak hierdie persoon en vra vir riglyne. Die een tydskrif se riglyne verskil van die volgende tydskrif s’n, daarom is dit beter om seker te maak deur die verhaalredakteur te skakel. 

Handel die verhaal af en laat dit ’n bietjie rus, werk weer daaraan en eers na die tweede of derde oorskryf en redigering, kan jy die verhaal met vrymoedigheid na die redakteur stuur. 

Woon kursusse en werkswinkels by. Dikwels word belangrike persone in die uitgewersbedryf gekontak om as gassprekers op te tree. Hulle het gewoonlik baie oulike raad oor hoe om gepubliseer te word, maar jy kan gerus dieselfde met uitgewers doen as wat jy met die tydskrifverhaal doen. Blaai op die uitgewers se webblaaie rond net om te sien watter tipe boeke gee hulle graag uit. Vir kortverhale om gepubliseer te word, moet jy ’n bundel voorlê, of ’n bydrae tot ’n bundel maak, maar vir die tweede opsie sal die uitgewer – as hy/sy van jou weet – jou kontak. 

Ek hoop hierdie beantwoord jou vrae.


Vraag:
Ek sou graag die roman/novelle van 'n skrywer wat nou oorlede is, van Engels na Afrikaans vertaal. Waar kan ek inligting kry t.o.v. die wetlike aspekte; regte ens. daarvan?

Antwoord:
Baie dankie vir jou vraag.
Ek sal heel eerste van die skrywer se uitgewer toe gaan. Hulle sal weet wie het die regte van die boek. Gewoonlik lê die regte by die uitgewer na ’n skrywer se dood, maar soms kan dit ook by ’n individu lê.

Gebruik die internet om by die betrokke uitgewery uit te kom, maar as jy nie regkom nie, kan jy ons gerus weer kontak en dan kyk ons hoe ver ons kan help.


'n Paar idees om in gedagte te hou as jy jou eie heildronk wil skryf:

Mens moet altyd goeie smaak, styl, die tipe geleentheid wat dit is en die onderskeie persoonlikhede van die paartjie in berekening hou. As agtergrond wil ek graag die volgende voorstel:

  • Begin met ’n anekdote (wat met een van die twee gebeur het), wat regtig baie snaaks is, maar wat hulle nie in ’n verleentheid sal stel nie.
  • Begin met ’n snaakse, maar smaakvolle grap.
  • Gebruik ’n aanhaling uit die letterkunde, ’n bekende liedjie of ’n aanhaling uit die Bybel. (Maak dit op die paartjie se verhouding van toepassing.)
  • Vertel hulle liefdesverhaal na aanleiding van ’n bekende (sprokiesverhouding). Onthou die persoonlikhede van die paartjie en smaakvolheid!
  • Vertel hulle liefdesverhaal na aanleiding van ’n groot liefde bv. rugby, krieket, swem, dans of so iets, wat een van hulle het. Gebruik met ander woorde beelde uit hierdie wêrelde.
  • Skryf ’n baie spesiale gebed (seënwens) vir hulle en doen die heildronk in die vorm daarvan. 

Hoop dit help!


Verdere inligting oor die instel van 'n heildronk:

Vraag:
Help! Die etiket om 'n heildronk in te stel. Hoe lyk so 'n toesprakie? Ek weet dit moet kort en kragtig wees, maar wat sê mens? Waar begin jy? Wat is die doel van 'n heildronk?

Antwoord:
’n Heildronk is eintlik niks anders nie as om iemand voorspoed en sukses toe te wens. 

Dit is beter om die persoon of die paartjie vir wie die heildronk bedoel is, eers beter te leer ken as jy hulle nie reeds ken nie.  Dis goed om met ’n grappie of anekdote te begin, maar vermy vulgariteit en verspottigheid.

Wees opreg in wat jy sê sonder om sentimenteel te raak. Hou dit kort en kragtig. Onthou wie die eregas is. Moenie die paartjie of persoon vir wie die heildronk bedoel is, ophemel nie. Veral nie as die persoon nie die eregas is nie. (As dit die bruid of die bruidegom se ouers is, moet jy onthou die bruid en die bruidegom is die belangrikste daar.)


Vraag:
HELP! Moet 'n heildronk instel om my broer se troue vir my geskeide ouers, weet nie waar om te begin nie, is maar bietjie skaam en wil nie stupid klink nie.

Antwoord:
Sjoe, ek verstaan jou dilemma baie goed.

Die heel eerste ding wat jy moet onthou, is: Die troue is jou broer en sy aanstaande se dag. Mens moet dit in gedagte hou selfs met die instel van die heildronk op ander belangrike gaste.

Ek weet glad nie wat julle unieke omstandighede is nie, maar ek sou so hartlik moontlik 'n heildronk op die ouers instel sonder om sentimenteel te raak. Ek weet ook nie of jou ouers ander lewensmaats het nie en watter rol die in julle lewe speel nie. Al wat ek wel weet, is dat 'n troue nie die plek is om die verlede op te haal nie. Ek sou nie met die ouers praat of hulle aanspreek sodat moet klink of hulle nie 'n paartjie is nie.

Afhangend van die verhouding met die lewensmaat en die omstandighede, sou ek hulle bv. aanspreek as: Ma Hannetjie en oom Kas, Pa Niek en tannie Riekie.

Ek sou ook nie 'n lang toespraak afsteek waarin ek die lof van die ouer besing nie. Ek sal eenvoudig (namens jou broer) dankie sê vir die jare se ondersteuning en liefde, die besonderse mense wat hulle elkeen vir julle is
en dat hulle elkeen 'n spesiale plek in julle lewens inneem. Wens hulle (die ouers) voorspoed toe (vir hulle afsonderlike lewens), asook gesondheid en 'n goeie nageslag. (Onthou: 'n heildronk is eintlik 'n seënwens wat jy oor hulle uitspreek.)


Vraag:
Ek moet 'n heildronk op 'n bruidspaar instel en het nie 'n idee waar om te begin nie. Die bruid is 'n vriendin van my (ons het saam regte studeer in BFN) HELP ASB!

Antwoord:
Ek sal die heildronk met ’n anekdote begin. Iets wat met jou en die bruid gebeur het toe julle nog studente was, maar wees versigtig dat jy nie gevoelens seermaak of die verkeerde idee by die gaste skep nie. Hou dit in goeie smaak. Vertel iets wat ’n besonderse karaktereienskap van die bruid besing/beskryf. Vertel nou iets oor die bruidegom. As jy hom nie so goed ken nie, vind iets oor hom uit. Veral nou moet jy versigtig wees. Niemand mag die verkeerde idee kry nie en dit kan maklik gebeur.

Volg die anekdotes op met ’n seënwens. Wees opreg in wat jy sê, maar ook hoe jy dit sê. Onthou om goeie smaak aan die dag te lê. Vermy vulgariteit, swak taal en flou grappe.

Eindig jou heildronk met die woorde (of iets soortgelyks): “Dames en Here, staan asseblief. Op die bruid en die bruidegom.” (Lig nou jou glasie sjampanje of water.)

Onthou altyd: Petru-Nell Skryfbesigheid kan help om so iets te skryf.


Vraag:
Ek moet n heildronk op my broer se troue instel op my ouers.Kan jy dalk vir my riglyne gee oor hoe mens so n heidronk instel. 
Hoe begin mens so n heildronk, wat se mens alles, ens.
Sal bly wees as jy my dalk n idee kan gee.
Baie dankie byvoorbaat.

Antwoord:
Hou die heildronk so kort moontlik, maar nie so kort dat dit nie sin maak nie. (Twee tot vyf minute.)

Dink aan jou ouers se mooiste en beste eienskappe/karaktertrekke en gaan gesels dan met jou broer om te hoor hoe hy daaroor dink. Dis sommer 'n lekker geleentheid om oor vergange jare te gesels - miskien is daar iets wat uitstaan waaroor julle almal nou nog lekker lag, of selfs saam oor huil. Kyk of jy dit hier kan gebruik om te skets wie hulle is en wat hulle vir julle beteken het.

Begin met: “Liewe familie en vriende, ...”. Daarmee trek jy die gaste se aandag. As iemand jou egter aankondig, kan jy dalk net dankie sê en begin gesels. Dis 'okei' om senuagtig te wees; almal sal verstaan, maar ontspan, want dit gaan oor jul ouers en hierdie heildronk is om hulle te eer vir wie hulle is en wat hulle vir julle beteken het.

Om mee te begin: Jy kan met ’n staaltjie begin of jy kan bloot dankie sê vir hoe hulle julle tot hier gebring het. Jy kan hulle dalk direk aanspreek en sê: “Ma, Pa, ek en ... (broer) het nou die dag gesit en gesels oor ons grootwordjare, en besef ... ” “Ons sal julle altyd dankbaar wees vir ... ” of “Julle is altyd beskikbaar wanneer ons julle nodig het, soos toe ... ” Jy kan praat oor hoe bevoorreg julle is om hulle as ouers te kon hê, ens. Jy kan ook van ’n aanhaling gebruik maak wat oor ouerskap of die verhouding tussen ouers en kinders handel.

Wees opreg, maar moenie hulle so ophemel dat hulle belangriker as die bruidspaar voorkom nie. Moenie oordrewe sentimenteel raak nie, en moenie enigsins vulgêr of heeltemal verspot raak nie.

Aan die einde kan jy die gaste vra om op te staan en sê dan: “Drink asseblief saam met my ’n heildronk op my en (broer) se ouers. Lig jou glasie en sê: “Op ... en  ... (hul name)”.

Ek hoop dit beantwoord jou vraag en help ’n bietjie.

As jy wil hê Petru-Nell Skryfbesigheid moet help met die skryf van die heildronk, is jy welkom om weer met ons in aanraking te kom. Stuur dan sommer vir ons besonderhede soos hul name, hoe jy hulle beleef, ’n paar besondere eienskappe van elkeen en dalk ’n gebeurtenis wat julle nader aan mekaar gebring het. Ook of jy en jou broer die enigste kinders is en of daar nog broers en susters is. (Sodat mens kan sê: “Ma en Pa, ons vyf kinders stem saam dat julle ... ”

 

Boontoe


 

Tuis

Klein advertensies

 


© 2008-2010 Petru-Nell Skryfbesigheid
 
free forum hosting by lefora